Hierdie stuk is geskryf in die jaar 2003.

DIE WONDERWERK:

In Meimaand verlede jaar het ek een oggend wakker geword en net geweet dat ek met ‘n gebedsaksie op die Internet moes begin. Waar wil jy ‘n beter medium kry om daagliks gebedsversoeke uit te stuur as juis die Internet. Binne minute stuur ‘n ou duisende e-posse uit na persone oor die hele wêreld. Die duiwel het in alle geval nie alleenreg op die Net nie. Om die waarheid te sê, het hy GEEN reg daarop nie.

Ek skryf aan almal wat op daardie stadium op my geselsbrief se adreslys is, oor wat ek wil doen. Die volgende dag het ek ongeveer 500 persone op die nuwe adreslys. Sonder om te spog (ek mag nooit hieroor spog nie, dis net genade uit die Liewe Here se hand), het ek binne ‘n dag soveel mense op die gebedsaksielys as wat ‘n gemiddelde gemeente lidmate het.

Dis die een deel van die verhaal. Nou moet ek eers die ander kant vertel:

Soos jy moontlik bewus is, is ons seun op 6.1.2001 oorlede. Na sy dood begin ons ‘n Bybelfonds, deur die geselsbrief, ter nagedagtenis aan hom. Ons samel R13500 in en skenk dit aan verskeie instansies met die opdrag dat die geld net vir die verspreiding van Bybels gebruik mag word. Een van die instansies werk onder die Franse en koop met die geld, wat ons aan hulle skenk, Bybels in Frans aan en versprei dit daar waar hulle sendingwerk doen. Vroeg in hierdie jaar stuur hulle aan ons ‘n boekie met verhale van wat met sendelinge gebeur het. Nie sommer net verhale nie, maar wonderwerke. Die boekie bereik ons ongeveer die 13de Maart 2003.

Ek en vroutjie gaan stap elke oggend so ‘n paar kilo’s. Ons geniet stap geweldig baie. Na ons die boekie ontvang het, lees vroutjie eerste daarin. Ongeveer die 15de Maart van hierdie jaar stap ons weer die oggend en terwyl ons stap, vertel sy van die verhale wat sy gelees het. Terwyl sy vertel, weet ek net dat ons weer met ‘n insameling vir Bybels moet begin. Sy vertel verder, maar ek hoor nie ‘n woord nie, want ek is in my gedagtes besig om ‘n brief op te stel wat ek voor 7vm aan ons gebedsaksiemaats wil stuur oor dit wat ek beoog. Terug by die huis haas ek my om die E-pos aan die ongeveer 1900 gebedsmaats te pos. Later die dag gaan ek na die bank en open ‘n rekening vir die fonds. Ek laat weet die gebedsmaats wat die bankbesonderhede is en binne 36 uur is die fonds oor die R1500 sterk.

Ons bid dat die Liewe Here vir ons sal wys aan wie ons die Bybels moet skenk wanneer ons genoeg fondse ingesamel het. Bo alle twyfel weet ek binne ‘n paar dae dat die Bybels aan die swart jeug van Soweto moet gaan. Daar is in my hart geen twyfel daaroor nie. Ek skryf aan almal op die adreslys wat die doel van die insameling gaan wees sodat daar by hulle ook geen twyfel is waarvoor ons die geld insamel nie.

  Toe ons met die insameling by R10000 kom (binne 2 maande), het ek berig dat ons nou die Bybels wil aankoop en dat ons instansies soek wat die verspreiding namens ons kan doen. Verskeie van ons gebedsmaats het instansies aanbeveel wat dit sou kon doen. Ek het die instansies per e-pos gekontak, maar het met die terugvoer wat ek gekry het, besef dat dit (volgens my beskeie mening) nie die regte instansies was nie. Sommige het nie eers op my e-pos geantwoord nie. Ek besluit toe dat ek vir Ds Bennie Mostert van o.a. die “Turn of the Tide” faam, in die hande moet kry en by hom hoor wie hy sou aanbeveel. Na ‘n dag of wat se gesukkel kry ek sy kantoornommer. Ek skakel en die vriendelike dame wat die foon antwoord wil toe weet hoekom ek met hom wil gesels. Sy deel my mee dat hy nie op kantoor is nie en dat hy so baie oproepe kry, dat sy dit soort van moet keur. Ek vertel aan haar wat ons beoog en dat ek graag daaroor met hom wil gesels. Sy sê dat sy sy selnommer vir my sal gee, maar dat ek dit liefs moet uitvee na ek geskakel het, maar beveel in dieselfde asem sommer aan dat ons van Louis Blom van Judea Harvest gebruik moet maak. Ek skakel vir Ds Bennie. Sy foon neem net boodskappe. Hy skakel my later terug en beveel aan dat ek van Louis Blom, van Judea Harvest, gebruik moet maak. Ek stuur aan Louis ‘n e-pos met ons aanbod. Verlede Vrydagaand skakel Louis my baie opgewonde terug, na hy die e-pos gelees het. Hy is in die wolke. Hy stel voor dan ons nie die volle Bybel of die Nuwe Testament moet koop nie, maar liewers net die Evangelie van Johannes, want dan kan ons baie meer aankoop en versprei.  Kom ek plaas eers sy e-pos en dan sal ek ‘n paar opmerkings maak.

Hy skryf:

++++++++++

Hi Danie

Baie dankie vir die aanbod van die Bybels, dit klink vir my so na aan ons Vader se hart. Hier is 'n baie kort Judea inligting stuk.

Judea Harvest bestaan vier jaar en is 'n evangelisasie en kerkplant beweging. Die strategie is om lokale Afrika kerke in 'n bepaalde gebied "Judea area" bymekaar te trek en hulle te inspireer, op te lei en toe te rus vir evangelisasie en kerkplanting in hulle Judea area. Ons help hulle met gebedsmateriaal, evangelisasieopleiding, dissipelskap materiaal en kerkplantopleiding. Ons maak dan tente beskikbaar aan hulle vir evangelisasie en kerkplantveldtogte.

Tans het ons 175 Sateliete in tien Suidelike Afrika lande wat met 600 tente werk. In die afgelope vier jaar het ons 2250 evangelisasie veldtogte gehou en 890 nuwe kerke geplant. Daar is elke aand van die week ongeveer 100 000 mense in Judea tente. In Soweto het ons reeds 20 nuwe kerke geplant en wy Sondag 25 Mei 2003 om 2 uur 10 nuwe tente toe in Johannesburg op die skoolveld net bokant RAU koshuise. Ons sal by hierdie geleentheid graag Johannes evangelies deur julle geborg aan elke tent wil oorhandig sodat hulle dit kan oorhandig aan die jeug wat hulle bedien en bereik. Die Here het juis met ons gepraat om te fokus op die jeug van Soweto aangesien hulle weer 'n oproer gaan veroorsaak in die land (hierdie keer 'n geestelikke herlewing). Baie dankie vir julle gehoorsaamheid, dit bevestig ons visie en die evangelies kan baie waarde byvoeg tot die projek.

Ons nooi julle ook dus om deel te hê aan hierdie wonderlikke dag op 25 Mei.

++++++++++

Nou wil ek net ‘n paar opmerkings maak:

1) Ek het voorverlede Donderdag (15.5.2003) nie veel van Judea Harvest geweet nie. Het geweet dat hulle bestaan, maar wat hulle doen en wie hulle is, het ek nie geweet nie.

2) Judea Harvest is, volgens Louis, al vir baie lank besig met die gedagte om 10 tente en die nodige ander ietms, soos Bybels, vir Soweto te skenk. Aan die einde van Februarie van hierdie jaar besluit hulle op ‘n vergadering om dit te doen en dat die oorhandiging op Sondag 25 Mei moet plaasvind. Ongeveer 15 Maart van hierdie jaar, kry ek die opdrag van die Liewe Here, dat ons moet begin met ‘n Bybelfonds insameling. Hulle vergadering en ons opdrag is dus net ‘n paar dae na mekaar en dit terwyl ons niks van mekaar af weet nie. Ek glo dat daar nie so iets soos toeval is nie, maar indien daar tog iets soos toeval is, dan is hierdie beslis nie toeval nie.

3) Judea Harvest besluit, soos in die brief van Louis vervat, dat die klem op die jeug van Soweto moet wees. Ons gebedsaksie besluit dat die Bybels wat ons gaan aankoop, vir die jeug van Soweto moet wees. Dat ek en Louis by mekaar moes uitkom - toeval – aikona, nie maklik nie.

4) Judea Harvest se oorhandiging is op 25 Mei 2003. Op 16 Mei, 9 dae voor die oorhandiging, kom ek en Louis met mekaar in aanraking en laat dit net mooi genoeg tyd, vir die aankoop van die Bybels. (Ek kon weer ‘n opmerking gemaak het oor moontlike toeval, maar sal my daarvan weerhou).

Waar in die lewe wil jy nou beter tydsberekening hê.

Ons het uiteindelik R14000 oorbetaal aan Judea Harvest.

As hierdie nie ‘n verhaal van ‘n wonderwerk is nie, dan weet ek nie wat wonderwerke is nie.

Indien jy ook ‘n bydrae wil maak – hoe klein of hoe groot ookal, hier is die bank- besonderhede:

Bank - Eerste Nasionale Bank.
Rekening nommer - 62051460683
Tak kode - 270343
Naam van Rekening – Bybelaksie.

++++++++++

Ek is oortuig jy deel my opgewondenheid,

Groete in Jesus se naam,

Danie
D@nie.co.za

<><><>

Terug na die hoofblad. Klik HIER